Terug na Artikels
Nalatingskap

Nalatingskap

Belangriker as "Erfgeld"

Laas opgedateer: 22 Maart 2022


Ek dink elkeen van ons wonder nou en dan of ons genoeg gedoen het as ouers om ons kinders 'n goeie hupstoot in die lewe te gee. Dit doen ons op verskeie maniere. Party kry 'n geleerdheid, party erf 'n som geld en ander erf 'n plaas.

Ek is bevoorreg om gereeld skouer te skuur met Andrew Jordaan Junior. Eendag tydens 'n gesprek vertel Andrew vir my dat daar nou al 100-jaar lank geselekteer word aan hulle kudde. Dit het begin by sy oupa grootjie. 100-jaar gelede klink amper soos in die middeleeue, maar ek dink selfs in daardie tyd was 'n ooi goudwerd en dit was nie noodwendig maklik vir 'n boer om 'n 3/5 ooi uit te skot en te slag nie. Maar tog het sy oupa grootjie 'n kultuur begin dat enige ooi wat nie presteer onmiddellik vankant gemaak moet word.

Vandag het ons baie tegnologiese hulpmiddels tot ons beskikking om prestasie in 'n kudde te meet. Natuurlik verskil die definisie van prestasie tussen 'n haar- en 'n wolskaap. Haarskape vir hulle effektiwiteit in swak veld, vrugbaarheid, goeie moederlike instink en karkas produksie vermoë. Haarskaap is kilogram vleis per "eenheid van insetkoste" *. Wolskape se prestasie moet gemeet word volgens dieselfde kriteria met 'n addisionele komponent wat natuurlik die wolopbrengs is per "eenheid van insetkoste" *.

* Eenheid van insetkoste

'n Eenheid van insetkoste kan bestaan uit 'n reeks van verskillende maniere wat boere ag hulle insetkoste te wees. Hier volg 'n paar voorbeelde:

  1. 'n Boer wat 'n kontant plaas het se "eenheid van insetkoste" sal moontlik sê sy opbrengs word gemeet in kilogram lam per hektaar per jaar.
  2. Indien rente op grond betaal word kan die boer sy "eenheid van insetkoste" definieer as kilogram lam geproduseer vir elke R1000 rente wat per jaar betaal word.
  3. Party boere het die nodige rekeninkundige prosesse in plek dat hulle "eenheid van insetkoste" bestaan uit wins per ooi, na in agneming van rente, arbeid, voeding, ens.

Punt 3 hierbo is egter 'n som wat gewoonlik agteruit gemaak word en min boere het hierdie data geredelik beskikbaar. Hulle is ook in meeste gevalle afhanklik van 3de partye om hierdie inligting vir hulle te bereken.


Die "maklike" data wat elke boer geredelik tot sy beskikking moet hê is die volgende:
  1. Hoe oud is 'n ooi
  2. Hoeveel en watter ooie is gedek
  3. Met watter ram is watter ooie gedek
  4. Hoeveel en watter ooie is dragtig en watter het oorgeslaan
  5. Hoeveel lammers het elke ooi gelam en hoeveel is gespeen
  6. Wat was lammers se geboortegewigte teenoor speengewigte
  7. Hoeveel kruipvoer moes lam vreet om by speen uit te kom
  8. Hoeveel geld moes in die ooi belê word om die lam/lammers tot by speen te kry
  9. Wat is ooi se werklike hersteltyd wat sy benodig voor sy weer beset kan word
  10. Hoeveel wol lewer die ooie per siklus/jaar
  11. Wat is die kwaliteit van elke ooi se wol
  12. Watter ooi is wanneer en met wat geënt
  13. Watse medikasie is op spesifieke ooie gebruik

Sonder bogenoemde data is dit moeilik om regtigwaar 'n ooi te kan selekteer gebaseer op feite. Ooie word uitgeskot of aangehou gebaseer op die blywende indrukke wat sy van tyd tot tyd OF maak, OF NIE maak. Sy is dalk nie die vrugbaarste, maar lewer 'n uitstekende wol opbrengs. Of die wol is van 'n swak gehalte maar sy gee elke 8-maande meerlinge. Geen boer kan werklikwaar 'n ingeligte besluit neem gebaseer op observasie van spesifieke "kenmerke" of "eienskappe" gedurende die produksie siklus.

Nou wat het bogenoemde te doen met "Nalatingskap"?

Alles!

Elke besluit wat 'n boer neem, sonder toegang tot die algehele prentjie van 'n ooi se houkoste en produksievermoë, gaan bepaal waarmee die volgende geslag gaan boer. Die kostes van hierdie "data versameling" kan nie oorweeg word met die uitgangspunt "O nee, dit gaan te duur wees!". Die koste van dataversameling moet gemeet word oor die volgende 100-jaar. Dis dalk duur in Jaar 1, maar kos amper niks in Jaar 5.


Geskryf deur: Pieter de Wet
Hoof Uitvoerende Beampte van IntelliFarm™ (Pty) Ltd en LANDRANI™ Meatmasters
"Meesters in Dataversameling & Presisievoeding"
https://www.intellifarm.co.za
Tel No: 071 6000 819
E-pos: pieter@intellifarm.co.za

Terug na Artikels